Plant vir my ‘n Namib roos.

Wed, Apr 9, 2008

Namibia

Right.

Oë oop.

Knip.

Knip.

Vryf oë.

Kyk rond.

Eldre. Check.

Trouring. Check.

Geen babbelaas. Check.

Kussings. Check.

Geen idee waar ek is nie. Check. Dis ‘n bekende gevoel uit my wyn drinkende, nie-studerende jeug.

Kyk verder.

Donker. So ‘n groen donker. Iets waai in die wind, so sylerig. Dis warmerig. Klein area.

O MOER!

Ons is in Namibië; op ons vakansie wat so amper nie gebeur het nie.

Als kom terug teen ‘n winderige spoed; ons is in ons tent, bo-op die dak van ons huur bakkie, in die middel van wie weet waar in die Namib woestyn, en dinge raak nou lekker. Dis Woensdag oggend, dink ek, en ons is 3 dae in ons toer in.

Die pad hierheen was ‘n Parlatones juigende, Koos Kombuis singende en Johnny Cash akoestiese kitaar mengelmoes van liedjies en musiek.

Dag 1, ‘n Saterdag. Die datum ontgaan my nou. Dis 4 dae terug. My selfoon lui, ek dog wie de donner sal so vroeg bel, en sien dis PJ wat kontak maak 4:45 in die oggend. Ek antwoord die foon, lekker deur die stillnox, en kom met ‘n skok agter dat ons al by die grens moes wees op pad Nam toe. Op een of ander manier het ons verslaap, maar nou ja; 2 ure laat op vakansie gaan is nog steeds vakansie, en ons val in die pad.

‘n Moerse klomp kilometers later is ons by die grens, Noord Oewer. Ek voel half op my senuwees om oor die grens te gaan, want teen die tyd weet ek dat ons Suid-Afrikaners ‘n gewoonte het om Namibië in te gaan, of hulle ons daar wil hê of nie. Ons is bereid om te betaal vir ons vakansie, so my groot hoop is die doeane ons met ope arms sal inlaat, en my sal vergewe vir wat ons en Amerika aan Suid-Wes gedoen het.

Amerika, land van die vrye. Solank dit in Amerika is.

Terug na ‘n beter land; Namibië.

So daar staan ons, deur Suid-Afrika se lug versorgde kantore, en gaan in by die warmste kantoor waar ek ooit in was vandat ek by Shoprite weg is. Maar nou ja. Klomp vrae, klomp antwoorde, raad en dies meer, en ons is amper klaar. ‘n Man kom ingewals, gooi sy vorm op die counter, en sê: “My brother, let’s go with the process.” Die kwaai man agter die counter beloer sy vorms, en vra die walsende man wat presies sy trok sleep agter in die groot containter? Al walsend vertel die man dat hy nie weet nie, want die container is gesluit. “Sealed, you know?” Kwaai man vattie kak van walsende kabouters nie, en vra-sê op ‘n laer noot hoe kan hy ‘n vol trok deur die grens bring, as hy nie weet wat daarin is nie.

Sealed. It’s sealed, I don’t know”.

But maybe it’s a bomb?

Ok, I know what it is; it’s a container full of drugs.

Stilte.

A whole container full of drugs“.

Stilte.

Stilte.

Ek en Eldre knip ons oë, maar baie saggies.

“WHAHAHHAHAHAHAHA!!! Very funny!!! Ok, bye bye.”

Ons gryp ons papiere, loop op daardie hardloop-sonder-dat-dit-lyk-of-jy-hardloop manier na die kar, en daar gaan ons.


Namibië: offisieel

Ons ry toe in die kar. Kobus was nie op die radio nie, maar ons ry in die kar.

In Mariental slaat ons die Wimpy met ‘n groot gejuig, en eet die grootste Wimpy burger in mense heugenis. Daar en dan besluit ons Windhoek lê vanaand in ons kar se reik afstand, en so bel ons Arebbusch Lodge vir ‘n slaap plekkie vir die aand. Soos altyd was Kannetjie verbysterend vinnig en akkuraat met haar raat, of dit nou per e-mail of SMS is. Anyway. 2ure, 5 minute en 270 kilometer later, betree ons Windhoek. Dis donker, ons is gatvol, alles onder pyn, en slaan ons die beddens na ‘n vinnige bier en kos. Ek bel ontvangs om te vra hoe lank die lugreëling vat om aan te kom. “10 minute, Meneer. Maar indien nie, bel terug.” Na 20 minute bel ek terug, en kom tot my verbasing agter dat die telefone in Namibië gekoppel is aan die lugreëling, want skielik werk ons telefoon ook nie. Dit was aand. Dit was middag. En dit was aand. 1500km later, en ons is in Windhoek.

Ek droom van die krieke.

Sondag oggend word angstig afgeskop met ‘n stort, ‘n stukkende lugreëling, werkende foon en die wete dat iemand (nou wel teen ‘n prys) vir ons ‘n 4×4 gaan gee, en gaan toelaat dat ons met hom ry vir 6 dae in die wêreld se grootste woestyn, hang swaar in die lug. Kapitalisme seëvier weereens.

Paaie word swart strepe, en ‘n paar uur later is ons in Walvis Baai. Die snelheid waarteen die landskap van groen na bruin woestyn verander skok my, en wonder ek of mens ooit gewoond raak daaraan. Nou kom ek wees eerlik, ek was met Eldré. Ek is hier wat ek het geweet sy wil dit doen. Ek is into my rekenaars, ek hou van ons huis met sy 4meg internet konneksie, sy lugreëling, sy PVR, sy wireless alarm sensors. Ek het lankal aanvaar ek is ‘n techie, en ek hoort in die stad. Sagte handjies en al. Ek sal in verafgeleë platteland dorpies soos Melkbos gaan bly, of as ek myself regtig druk, sal ons dit kan gaan rough in Riebeek Kasteel of Grayton. So woestyne en ek is nie natuurlike vriende nie, maar die liefde is sterker as onbekende vyandskap, en so sit ek toe teen wil en dank in Namibia; net buite Swakopmund, besig om ‘n redelike haastige VW Touran te bestuur. Toe slaan dit my. “Dit” is die woestyn. Na menigte nagtelike kaperjolle na Upington deur die Kalahari, het ek geweet dat DIT vir my mooi is, maar dat DIT my nie roer nie. En dis maar hoe dit is. In die Touran slaan die hoendervleis my. Tussen die duine op pad Swakopmund toe, besef ek die omvang van wat ons doen, en ek begin besef die omvang van die woestyn. Ek weet nie veel nie, maar ek weet dat in die woestyn, waar niks lewe nie, is daar tog miljoene en miljoene diere en goggas en plante wat tussen al die dood en hartseer wel ‘n wonderlike lewe lei. Dit klink vir my toe nes mense wat met kanker lewe, en daar weet ek hier gaan ek tuis voel.

Die krieke wat Namibië opoffer om my hierdie te laat besef, bly in my gedagtes.

Ons kry ons bakkie, ek maak asof ek baie meer weet as wat ek regtig doen, en teen alle odds in gee hulle vir ons ‘n 4×4. ‘n Regte een. Met wiele en yskaste en so aan. Na ‘n mal gejaag in Walvis is ons vol diesel, halfvol met olierige Pick & Pay kos, en ‘n oorvol gemoed.

Bakkie word in rat gegooi, en daar donner ons af in die stofpad op ‘n nuwe lewe. Deur al die stof kan ons nie sien waar ons vandaan kom nie.

Die bakkie maak die kak-irreterendse beeeeeeeeeeeeeep geluid as jy oor 100km/h ry, maar gelukkig begin mens dit vinnig nie meer hoor nie. Deur draaie en passe gaan dit vreugdevol, en skielik slaan dit ons soos reën in die woestyn.

Reën in die woestyn. Dis wat ons slaan. En nie min nie. Baie. Moer baie reën. Ons hou ons naam gestand en daag ‘n uur laat op in Solitaire, maar mense is bly ons is net daar. 2 ouens het hulle karre afgeskryf op pad na die vakansie. Gelukkig is almal ok, maar die 2 voertuie (altwee ‘n Toyota) en vakansie planne is onherstelbaar vernietig.

Almal ontmoet mekaar, ons drink wyn en alkoholvrye bier, praat parra en eet vleis. Maar nie in daardie volgorde nie. Tussen-in begin dit weer reën. Maar dit reën ‘n Namib vol water daardie aand. Ek bedank Jurgens dat hy so goed toere reël, dat hy met gemak vir ons reën in die woestyn kan reël. En dis nie bietjie nie, dis ‘n Namib vol. Daardie nag kom ek agter Jurgens is nie net baie goed met reën reël nie, maar ook wind. As ek gedink het hy het ‘n skill vir reën reël, moes ek gewag het vir sy spog met die wind.

Daardie aand is die tent baie groot, baie raserig, en baie donker. Eldré hou my vas, en deur die nag wonder ek waar die krieke slaap gedurende reën storms.


Die modieuse woestyn-ganger het seker gemaak dat haar klere en die tent se kleurskakerings pas.



2 Responses to “Plant vir my ‘n Namib roos.”

  1. Marli Says:

    Wow… Ek verstaan hoekom hierdie lewensveranderend was…

    Reply

  2. Ons2 Says:

    Fantasties….. klink na ‘n maase holiday!!! Ons wag vir die volgende episode….

    Reply

Leave a Reply