Kaptein Caprivi

Wed, Apr 16, 2008

Kaptein Caprivi, Namibia

Hoe meer ek probeer uitvind oor wie presies hierdie mistieke man is, hoe meer lyk dit vir my asof hy NIE Valiant se Mystic Boer is nie. Die storie loop dat hy ‘n Boer (nie ‘n boer nie) is, wat vir volk (die uitverkore wit volk hier onder aan die gatkant van Afrika) en vaderland (die uitverkore wit land hier aan die gatkant van Afrika) baklei. Kaptein beskerm ons teen die bose magte van die swart gevaar, teen kommunisme en teen enige iets anders wat nie die goedkeuring van die NG kerk dra nie.

Dylan Craig skryf ‘n baie interessante storie oor die “square-jawed” Kaptein Caprivi fliek (1972 – my geboorte jaar) in sy stuk getiteld “Screening the Border War, 1971-88“.

Kaptein Caprivi opens to military marching band music and the red gauntlet of
the Brigadiers logo, a martial tone that effectively foreshadows the film’s
content. The film also features a prologue by ex-State President C.R. Swart, in
which he urges South Africans to remain vigilant `dag na dag, nag na nag, jaar na
jaar’ against the envious foreign forces arrayed against them. The film’s visuals
during his speech cut between close-ups of drilling black guerrilla fighters and
uniformed Chinese communists. No sooner has the prologue ended and the
movie itself begun than this pairing reappears in the form of a kidnap squad
sent over the South African border to plant landmines and abduct a group of
white South African farmers.

Blykbaar is daar ‘n ander Kaptein Caprivi wat voor die koms van die internet en TV basies ‘n nasionale held was in Afrikaanse Suid-Afrika. Kaptein Caprivi het in fotoverhale sy verskyning gemaak, en is later verhoog in status deur in bogenoemde Grens Oorlog propaganda flieks te verskyn. Snaaks genoeg is daar amper geen informasie oor fotoverhale beskikbaar op die internet nie; is dit moontlik dat dit net ‘n Afrikaanse ding was? Ek vind dit moeilik om te glo. Die enigste werklike voorbeeld wat ek kon kry, is deur ‘n ou kennis, Tom Dreyer, geskryf vir Litnet jare terug. ‘n Koue, winderige blast from the past, ek sê.

Kaptein se woestyn darem. Dit het so ‘n invloed op mens. G’n wonder die arme donner het ons man alleen gered nie. Iets in daardie plek verander jou net die oomblik as jy daar inry in jou lugversorger 4×4 bakkie, swaar gelaai met liters en liters se ingevoerde mineraal water. En wie sê die wêreld loop nie vooruit nie? Ek dink nie my ondervinding was heeltemal dieselfde as ons geliefde Voortrekker voorvaders s’n nie.

Eerste 4x4 deur die Namib

Dag 3.

Dag 2 word nie oor gepraat nie, want dit sal vir altyd bekend staan as “die dag wat Rohan nie oor die donnerse duin kon kom nie, maak nie saak hoe hard hy sy bakkie gewax het nie”. Al wat ek daaroor sal noem is dat as jy deur die Namib gaan, en die tweede dag kom jy by ‘n duin waar jou toergids 3 keer moet probeer om uit te kom met sy Cruiser bakkie, dan klim jy uit en maak bier oop. Jou 2.5liter diesel Hilux gaan dit nie maak nie. Glo my. Daardie nag is die krieke nie meer in my drome nie, maar is vervang deur duisligwekkende hoë duine wat al hoe nader aan my waai. Krieke weet hulle hoort nie hier nie, maar ons leer nie. Eldre hou my vas, totdat ons later mekaar vashou. Die tent voel baie groot.

Dag 3. Die konvooi word vinnig lank, soos almal vir mekaar wag om oor blinde duine te jaag teen gevaarlike snelhede. Op ‘n stadium kom ons by ‘n duin wat bo ons uittroon, net om vinnig te val in ‘n groot gat in. Iemand se dit lyk soos Kimberley se Gat. Ek stem saam, want ek was ook nog nie by Kimberley se gat af nie. Jacques, die toergids, bied aan om vir ons te wys hoe ware manne ‘n duin aanpak. Ons knik net ons koppe, en soos ware stad 4×4 bestuurders, haal ons ons kameras uit. Dit gaan deur my kop dat Jacques wragtig die ou is met die grootste yster balle wat ek ooit ontmoet het. Hy ry om die duin, my video kamera loop, hy gooi sy Cruiser oor die lippie, en kom met ‘n groot gejuig teen die duin af. Volgens sy GPS is dit 108m vertikaal daar af.

Duin 108.

Iemand vra vir Jacques of ons ook kan gaan, en na ‘n vinnige check of almal die vrywaring forms geteken het, reken hy ja, ons is reg daarvoor. My intuïsie sê net daar vir my om nie verder te dink aan enige iets nie, maar om net in my bakkie te klim en te ry. ‘n Vinnige gilletjie na Eldre om te hoor hoe sy voel oor death-by-dune, en daar gaan ek man alleen in die bakkie na my Rubicon. Bo gekom is daar NATUURLIK weer ‘n lippie waaroor jy moet gaan, en NATUURLIK moet ek eers weer vassit daar. Dis nie genoeg dat ek geseënd is met hoogtevrees nie; nee. Ek moet NATUURLIK op ‘n duin gaan vassit waar ek NIKS onder my kan sien behalwe lug nie. En NATUURLIK moet ek eers afgesleep word van die lippie, voor ek weer die duin kan aanpak. en NATUURLIK kan jy dit nie te vinnig aanpak nie, want dan gaan jy bakkie 108m ver rol teen ‘n duin af.

Die ooms hang

Niks behalwe staal.

4×4 in rat, toergits Len op die radio om vir my te sê wanneer ek dit mag durf om my voet van die diesel af te haal; en daar gaan ek. 2 Sekondes later is ek oor die lippie, 4×4 in 1ste low, remme los, en ek ski teen 5km per uur in ‘n nuwe lewe in. Ek is gelukkig om te weet dat die eerste deel van my lewe 108 meter(*) lank was.

Af met die duin

Daardie aand begin die tent klein voel. Eldré kla ek hou haar te styf vas.

Motte kom loer vir ons deur die gaas.

* Ok, dis nie 108 meter nie, want die vertikale afstand is 108 meter. Om wel die afstand uit te werk, moet ek eers die hoek van die duin uitwerk, en daarvoor is ek nie lus nie. Ek is wel seker iemand sal dit vir my uitwerk, dankie Hugo of Marli of Walter of Christopher.

6 Responses to “Kaptein Caprivi”

  1. lankkiff Says:

    Dankie vir die mooi woorde Philip. Ek is bly om te sien iemand lees darem die blog :-)

    Ek het nog nie oor die “O bliksem” hemde geskryf nie, want ek het waarskuwing van sekere hemp wenners gekry dat wat in die woestyn gebeur, in die woestyn bly. :-)

    Jy is reg oor my lesers se wiskunde. My vriend Hugo reken dat jy nie ‘n idee het waarvan jy praat met jou wiskunde nie, maar dis maar tussen julle 2. Vir my was dit hoog genoeg, maar ek sal nie nee se as iemand vir ek en Eldre wil nooi na ‘n groter duin toe nie…

    Reply

  2. Philip (Oom) Says:

    Net ‘n regstelling. Die horisontale afstand is 187 meter en die skuinsafstand is 216 meter. Dit wil voorkom asof jou lesers nie wiskundig ge-orienteerd is nie.

    Reply

  3. Philip (Oom) Says:

    Ek hou van jou skryfstyl en sien uit na die volgende “hoofstukke” waarin jy sker kommentaar gaan lewre oor die O Bliksem hemde en die muskiete.
    Die hoek waarteen duine afgaan is 30 grade so die horisantale afstand is 216 meter en die werklike skuinsafstand is 187 meter.

    Reply

  4. Marli Says:

    haha… ek is seker dat al wat saak maak is in fact dat almal lewe. Dat daar cool fotos is en dat die son weer skyn.

    Reply

  5. Marius Says:

    Bra, ek voel verskriklik in die gesig gevat dat jy my naam nie bygevoeg het by daardie lys vol hoogs intelligente individue nie. Of miskien weet jy maar net dat kuns en wiskunde nog nooit vriende was nie. Ek sal dit nie teen jou hou nie. So, ek sal my input plaas op jou storytelling vermoens. Mag ek noem dat jou keuse van foto’s baie gepas was waar jy dit gebruik het. Asook die foto’s waar die voertuig besig is om oor die lippie te gaan, baie goed geneem is en n ware vorm van perspektief laat aan die viewer. Dit skep n baie werklike gevoel. Well done aan die persoon wie dit geneem het.

    Reply

  6. Hugo Says:

    My ou maat, met die beperkte inligting tot my beskikking ( die foto is nie 100% uit die regte hoek afgeneem nie) kan ek jou meedeel dat jou eerste deel van jou lewe 152.7351 meter lank was.
    Baie geluk!!

    Reply

Leave a Reply