Ek het NIE ‘n idee wie hierdie geskryf het nie, maar dankie vir Karate Kallie wat dit aangestuur het.
Niks in die lewe bring groter vreugde vir ‘n moeë vis-en-hoenderdieet as ‘n langnaweek in Namibia nie. Die oggend, middag en aandvleisvure brand hoog en die vet drup uit die vakansie baarde, dis ‘n geil besigheid man, geil man, geil. Jou beker loop oor. Soggens is dit skaapniertjies, smiddae skaaptjops en saans iets kleins soos ‘n ou biefstukkie of ‘n varkboudjie.
In Namibia beteken ‘n gebalanseerde dieet ‘n tjop in elke hand. Tussendeur word daar aan ‘n biltonkie gekou om die kieste oefening te gee.
Maar soos met alle goeie dinge kom daar ‘n einde aan alles. Die t’rugtog Kaap toe kom soos ‘n dief in die nag. Daar word uitgestel en weggepraat maar vader Tyd het gesê dis Sondagmiddag en so sal dit wees. Na ‘n skaapvleis ontbyt word die langpad gevat met skaapboud toebroodjies vir padkos.
Voetslepend en klaend word die tasse gepak en gelaai en met stroewe gesigte word die Namibiese familie gegroet. Die stilte in die motor is oorverdowend wanneer ons die pad vat Kaap toe.
Rehoboth, Kalkrand, Spietkop, Mariental, Spietkop, Keetmans, Spietkop flits die plekke verby. Grunau …. amper halfpad en die Sondagmiddag trek lang skadu’s oor die suide vlaktes. Aaaai, as ons maar al die skapies kon saamvat vir die mense in die Kaap. Hulle weet nie wat mis hulle nie. Glo mos net aan vis en hoender. Hoender is mos nie verniet die nasionale voël van die Wes-Kaap nie. Na Vioolsdrif kom die fout. Grooot fout! ’n Pyn van epidermiese proporsies skiet my regterenkel binne. Dit moet ‘n beroerte wees. Ek sweer dis ‘n hartaanval …. My hart sit juis in my skoene. Kry mens miskien ‘n voetaanval, Bosluisvoet of Slangvoet? Die moontlikhede is legio. Die pyn neem alles oor. Die kinders wonder of pa Krismis gaan haal.
Liefste wil weet of ek koors het. “Bel die dokter!” is al wat ek kan uitkry terwyl ek stotterend probeer asem kry. Ek trap die petrol dieper met die anner voet en die trane biggel oor my wange. O Kaap, O Kaap, as ek tog maar net by die huis kan kom. Vroutjie bel vir Dok uit sy Sondagmiddagslapie. Dit is NOOD broer. Sy vertel in kort, afgemete sinne wat haar diagnose is. Dok vra hieroor en daaroor en waar die pyn is en of daar ou rugby beserings is in daai voet. Dan die lang stilte. Ons albei verwag die ergste.” Nee” se dok” maar as dit so pyn en die pyn daar is en julle die en daai ge-eet het, daar geen koors is nie, die pyn nie “loop” nie, dan lyk dit my na ghout”.
“Wat het jy in die kar? Het jy enige iets vir die kinders vir karsiek?”
Dankie tog, dink ek nou is ons darem al by die merriekasie. “O, setpille” hoor ek vroutjie antwoord van die kant af, “maar as jy dit het, kan jy dit vir hom gee. Hy sal ‘n 100mg moet inkry”. “Maar ek het net 15 en 20mg pilletjies”, hoor ek vir vroutjie terwyl sy hard dink hoe sy hierdie pilletjies in haar man se watse dinges gaan inkry. Synde die dokter op die “loudspeaker” is, kan ek darem self in my toestand uitwerk hoeveel keer gaan ek, nou ja, die ding moet doen. Toe hy aflui staan ek dadelik vas, ek het ook mos ‘n binneste. “Sal wag tot op Springbok, daar sal ‘n noodapteek wees” en daarmee handel ek die gesprek af, ter wille van die kinders in die kar.
Maar ai boeta, op Springbok is ‘n noodapteek so skaars soos reën. Niks oop, op ‘n Sondagaand nie. “Dan druk ons maar deur Kaap toe.” Kners ek op my tanne. Ek sit nou al kaalvoet met die lugreeling vol oop op my voet - dalk vries die ding dood dan kan ek hom afbreek en in die kar se “boot” gooi. ’n Man het sy trots en ek’s g’n hoender wat klein pilletjies agterstevoor om pik nie. Op Garies is al my manlikheid daarmee heen … alles is wit van die pyn. “Vrou, gee maar - dit is nou of nooit, en ek “nou” liewer as “nooit”.
Vroulief fynkam haar “toolbox” en kom met die goeie nuus, daar’s nog ‘n 100mg setpilletjie”. Daar het jy dit: Vir elke pyn is daar ‘n gewig. Pil in die hand bestorm, of was dit nou bekruip of huppel ek na die plek van verligting by die vulstasie. “Hierdie besigheid MOET net werk” dink ek by myself en probeer moed skep vir wat voorlê. Ek worstel en sweet, maar in moet hy in - het jy al ooit probeer om ‘n “dartboard” se “bullseye” van die agterkant af op een been te kry sonder om die ander ouens in die kleedkamer met sagte kreungeluidjies te vermaak?
Na die nagmerrie sukkel ek t’rug kar toe en ons val in die pad. Die kinders wil weet hoekom pa se oë dan nou so groot is. Dink seker ek probeer Wolf en Rooikappie vir hulle opvoer om die pad om te kry. Niemand sê iets nie, ma bly liewer stil, sy weet wanneer vraetyd verby is. Later slaap die kinders snoesig in hul stoeltjies, ek sit met die pyn en trap die petrol dat ons in die Kaap kan kom. Pyn, alles net pyn en die gedagte van die vreeslikheid daar in die toilet op Garies vir ewig ingeprent in my geheue.
By Van Rynsdorp traai vroutjie weer ‘n geselsie.” Voel dit al beter, skat.”
“Nog nie juis nie liefling. Maar dis darem ‘n skerp pil daai” gooi ek ‘n hou na die witjasse. “Hoe bedoel jy?” “Ek bedoel die alluminium om die pil.
Ek moes die besigheid omtrent “panelbeat” om die skerp kante te probeer platkry. As ek dit sommer net so sou gebruik, kon ek my binneste lelik beskadig” verduidelik ek sonder om te veel “detail” te gee.
Dit smaak vroutjie het as selfmoordbomplanter by Elkaida gekwalifiseer. Sy ontplof dat die kinners se lyfies ruk en hulle met hulle handjies bo-kant hulle koppe gryp in hulle slaap. Dis die ergste lagbui wat ek uit haar lyf hoor sedert die nuus van haar eerste swangerskap. “Jy moes die alluminium afhaal, poe…ol!” rek sy dit uit en sy trek haar foontjie nader. ”Maar ek dog dit werk soos ‘n kapsule. Mens breek mos nie ‘n kapsule oop nie, net nou vergiftig jy jouself met ‘n oordosis, die besigheid moet mos stadig ‘n mens se sisteem bekruip!” My manlikheid en intellek is daarmee heen. Die wêreld weet. Sy mishandel die selfoontjie om die nuus oor die aardbol te versprei.
Dok is die eerste om van my “mishap” te hoor. Hy kan sommer my lyding op die internet uitblaker en die eer kry vir die beste mediese “joke’ van die maand. Geen setpil sal ooit weer dieselfde wees nie. Hoe gaan ek die wêreld in die oë kyk? En dit na die vreeslike lyding op Garies. Ek verlang na die tere liefde en simpatie van my moeder.
Volgende more is ek ‘n “celeb” op kantoor, almal wil tog net bemoedigend aan my vat of ‘n ou geselsie aanknoop. Wil weet of ek nou ‘n “stainless steel silencer” het. Ha, ha, ha, wens julle kry dieselle pyn wat ek in my voet het in julle “silencers” dan sal ons sien!
Klomp ape!
Het die ding gewerk? Weet nog nie….wag dat die aluminium “corode”.




September 9th, 2008 at 11:53 am
Dankie Sammi vir die woorde.
Dit sal baie nice wees om te weet wie daai brief geskryf het. Laat weet as jy ooit uitvind.
September 9th, 2008 at 11:33 am
Dis hoe ek jou opgespoor het, hierdie titel gegoogle en VOILA!
Top blog!
August 24th, 2008 at 8:29 am
Dankie MKP. Ek hoop ek vind uit wie dit geskryf het, maar nou ja.
Daar is al baie nonsens geskryf op die blog, lees gerus verder.
August 23rd, 2008 at 1:33 pm
Lekker gelag! Skryf weer.